Home

Genesis

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50


-Reset+

Hoofstuk 27

1 Toe Isak oud geword het en sy oë swak was, sodat hy nie kon sien nie, het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê: My seun! En hy het hom geantwoord: Hier is ek!
2 Toe sê hy: Kyk tog, ek het oud geword, ek weet die dag van my dood nie.
3 Neem dan nou tog jou wapens, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit in die veld en jag vir my ‘n stuk wild
4 en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê; en bring dit vir my om te eet; sodat my siel jou kan seën voordat ek sterwe.
5 En Rebekka het geluister terwyl Isak met sy seun Esau spreek. En Esau het in die veld gegaan om ‘n stuk wild te jag en dit te bring.
6 Toe het Rebekka met haar seun Jakob gespreek: Kyk, ek het jou vader met jou broer Esau hoor spreek en sê:
7 Bring vir my ‘n stuk wild en maak vir my lekker ete, dat ek kan eet en jou kan seën voor die aangesig van die HERE voor my dood.
8 My seun, luister dan nou na my, na wat ek jou beveel.
9 Loop nou na die kleinvee en gaan haal vir my daar twee mooi bokkies, dat ek jou vader daarvan ‘n lekker ete kan maak soos hy dit graag wil hê.
10 Dan moet jy dit na jou vader bring, dat hy kan eet; sodat hy jou kan seën voor sy dood.
11 Toe sê Jakob vir sy moeder Rebekka: Kyk, my broer Esau is ‘n harige man en ek is ‘n gladde man.
12 Miskien sal my vader my betas, en ek sal in sy oë wees soos ‘n spotter; so sou ek dan ‘n vloek oor my bring en nie ‘n seën nie.
13 Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees, my seun! Luister net na my en gaan haal dit vir my.
14 Toe het hy dit gaan haal en na sy moeder gebring. En sy moeder het daarvan ‘n lekker ete gemaak soos sy vader dit graag wou hê.
15 Ook neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en sy trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan;
16 en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladdigheid van sy nek,
17 en sy gee die lekker ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van Jakob, haar seun.
18 Toe kom hy by sy vader en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is jy, my seun?
19 En Jakob sê aan sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Rig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan seën.
20 Daarop het Isak aan sy seun gesê: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy antwoord: Omdat die Here u God dit my laat teëkom het.
21 En Isak sê vir Jakob: Kom tog nader, dat ek jou kan betas, my seun, of jy waarlik my seun Esau is of nie.
22 En Jakob het nader gekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en gesê: Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande.
23 Maar hy het hom nie geëien nie, omdat sy hande harig was soos sy broer Esau se hande; en hy het hom geseën.
24 Hy het naamlik gevra: Is jy waarlik my seun Esau? En hy het geantwoord: Ja.
25 Toe sê hy: Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet, sodat my siel jou kan seën. En hy het dit vir hom nader gebring, en hy het geëet. Hy het vir hom ook wyn gebring, en hy het gedrink.
26 Daarop sê sy vader Isak vir hom: Kom tog nader en soen my, my seun!
27 En hy het nader gekom en hom gesoen. Toe ruik hy die geur van sy klere, en hy seën hom en sê: Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat die HERE geseën het.
28 En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos.
29 Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ‘n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.
30 Maar toe Isak Jakob klaar geseën het en Jakob nog skaars van sy vader Isak af weggegaan het, kom sy broer Esau van die jag af,
31 en hy maak ook ‘n lekker ete en bring dit na sy vader en sê aan sy vader: Laat my vader hom oprig en eet van die wildsvleis van sy seun, sodat u siel my kan seën.
32 En sy vader Isak vra hom: Wie is jy? En hy antwoord: Ek is u seun Esau, u eersgeborene.
33 Toe skrik Isak geweldig en sê: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my gebring het? En ek het van alles geëet voordat jy gekom het, en hom geseën—ook sal hy geseënd bly!
34 Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met ‘n baie groot en bitter geroep, en hy sê vir sy vader: Seën my ook, my vader!
35 En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën weggeneem.
36 Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?
37 Toe antwoord Isak en sê vir Esau: Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos versorg. Wat kan ek dan nou vir jóu doen, my seun?
38 Daarop het Esau aan sy vader gevra: Het u net een seën, my vader? Seën my ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween.
39 Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo.
40 En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.
41 En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak.
42 Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak.
43 My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban,
44 en bly ‘n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar,
45 tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?
46 Verder sê Rebekka vir Isak: Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het. As Jakob ‘n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land—waarvoor lewe ek dan?