Home

2 Konings - 2 Kings

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25


-Reset+

Hoofstuk 18

1 En in die derde jaar van Hoséa, die seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskía, die seun van Agas, die koning van Juda, koning geword.
2 Vyf en twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het, en nege en twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Abi, ‘n dogter van Sagaría.
3 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Dawid gedoen het.
4 Hy het die hoogtes afgeskaf en die klippilare verbreek en die heilige boomstamme omgekap en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op dié dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Nehústan genoem.
5 Hy het op die HERE, die God van Israel, vertrou, sodat onder al die konings van Juda ná hom en die wat voor hom gewees het, niemand soos hy was nie.
6 Ja, hy het die HERE aangehang sonder om van Hom af te wyk en sy gebooie onderhou wat die HERE Moses beveel het.
7 En die HERE was met hom; waar hy ook heen uittrek, was hy voorspoedig; en hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en hom nie gedien nie.
8 Hy het die Filistyne verslaan tot by Gasa en sy grondgebied, van wagtoring af tot versterkte stad.
9 Maar in die vierde jaar van koning Hiskía—dit was die sewende jaar van Hoséa, die seun van Ela, die koning van Israel—het Salmanéser, die koning van Assirië, teen Samaría opgetrek en dit beleër;
10 en hulle het dit ingeneem aan die einde van drie jaar; in die sesde jaar van Hiskía—dit was die negende jaar van Hoséa, die koning van Israel—is Samaría ingeneem.
11 En die koning van Assirië het Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat bly in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië;
12 omdat hulle nie gehoorsaam was aan die stem van die HERE hulle God nie, maar sy verbond oortree het—alles wat Moses, die kneg van die HERE, beveel het—sonder om daarna te luister en te handel.
13 Maar in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower.
14 Toe laat Hiskía, die koning van Juda, die koning van Assirië na Lagis weet: Ek het gesondig; trek terug van my af weg; wat u my oplê, sal ek lewer. En die koning van Assirië het aan Hiskía, die koning van Juda, drie honderd talente silwer en dertig talente goud opgelê.
15 En Hiskía het al die silwer gegee wat in die huis van die HERE te vinde was en in die skatkamers van die huis van die koning.
16 In dieselfde tyd het Hiskía die goud van die deure in die tempel van die HERE afgesny en van die deurposte wat Hiskía, die koning van Juda, oorgetrek het, en dit aan die koning van Assirië gegee.
17 Toe stuur die koning van Assirië die tartan en die rábsaris en die rábsake uit Lagis met ‘n swaar leër na koning Hiskía na Jerusalem toe; en hulle het opgetrek en by Jerusalem gekom. En toe hulle optrek en aankom, het hulle gaan staan by die watervoor van die Boonste Dam wat aan die grootpad van die Bleikveld lê.
18 En hulle het na die koning geroep. Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, uit na hulle toe.
19 En die rábsake sê vir hulle: Sê tog vir Hiskía: So spreek die groot koning, die koning van Assirië! Wat is dit vir ‘n vertroue wat jy koester?
20 Dink jy dat net lippetaal raad en dapperheid vir die oorlog is? Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom?
21 Kyk nou, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou.
22 Maar as julle vir my sê: Ons vertrou op die HERE onse God—is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare Hiskía verwyder het nie deur aan Juda en Jerusalem te sê: Voor hierdie altaar in Jerusalem moet julle buig?
23 Nou dan, wed tog met my heer, die koning van Assirië, en ek sal jou twee duisend perde gee as jy vir jou ruiters daarop kan lewer.
24 Hoe sal jy dan die aanval van ‘n enkele goewerneur van my heer se geringste dienaars afslaan? Maar jy vertrou op Egipte vir strydwaens en perderuiters!
25 Het ek nou sonder die HERE opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes? Die HERE het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit.
26 Toe sê Éljakim, die seun van Hilkía, en Sebna en Joa aan die rábsake: Praat tog met u dienaars Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van die manskappe wat op die muur is nie.
27 Maar die rábsake sê vir hulle: Het my heer my na jou heer en na jou gestuur om hierdie woorde te spreek? Is dit nie na die manne wat op die muur sit, dat hulle hul eie drek kan eet en hul eie water kan drink saam met julle nie?
28 Toe gaan die rábsake staan en roep hardop in die Joodse taal; en hy spreek en sê: Hoor die woord van die groot koning, die koning van Assirië!
29 So sê die koning: Laat Hiskía julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie uit sy hand kan red nie.
30 En Hiskía moet julle nie op die HERE laat vertrou nie deur te sê: Die HERE sal ons sekerlik red, en hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.
31 Luister nie na Hiskía nie; want so sê die koning van Assirië: Sluit met my vriendskap en trek uit na my toe en eet elkeen van sy wingerdstok en elkeen van sy vyeboom en drink elkeen die water van sy put,
32 totdat ek julle kom haal na ‘n land soos julle land, ‘n land van koring en mos, ‘n land van brood en wingerde, ‘n land van olyfbome en heuning; dan sal julle lewe en nie sterwe nie; en luister nie na Hiskía nie, want hy verlei julle deur te sê: Die HERE sal ons red.
33 Het die gode van die nasies elkeen sy land ooit gered uit die hand van die koning van Assirië?
34 Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarváim, Hena en Iwa, dat hulle Samaría uit my hand kon gered het?
35 Wie is daar onder al die gode van die lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red?
36 Maar die manskappe het stilgebly en hom niks geantwoord nie; want dit was die bevel van die koning: Julle moet hom nie antwoord nie.
37 Toe het Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, met geskeurde klere by Hiskía gekom en hom die woorde van die rábsake te kenne gegee.