Home

2 Konings - 2 Kings

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25


-Reset+

Hoofstuk 4

1 En ‘n sekere vrou uit die vroue van die profete-seuns het na Elísa geroep en gesê: U dienaar, my man, is dood, en u weet self dat u dienaar die HERE gevrees het; nou het die skuldeiser gekom om my twee kinders vir hom as slawe te neem.
2 Toe sê Elísa vir haar: Wat kan ek vir jou doen? Gee my te kenne wat jy in die huis het. En sy antwoord: U dienares het glad niks in die huis nie, behalwe ‘n flessie met olie.
3 En hy sê: Gaan leen vir jou van buite af kanne, leë kanne van al jou bure; leen nie te min nie.
4 Gaan dan in en sluit die deur agter jou en jou seuns toe, en giet in al daardie kanne en sit weg wat vol is.
5 Sy het toe van hom af weggegaan en die deur agter haar en haar seuns toegesluit; en terwyl hulle vir haar aanbring, giet sy in.
6 Sodra die kanne vol was, sê sy aan haar seun: Bring vir my nog ‘n kan aan; maar hy antwoord haar: Daar is geen kan meer nie. Toe gaan die olie staan.
7 Daarop kom sy om dit die man van God te kenne te gee; en hy sê: Gaan verkoop die olie en betaal jou skulde; van die orige kan jy en jou seuns dan lewe.
8 En op ‘n dag het Elísa verbygegaan na Sunem; en daar was ‘n vermoënde vrou wat by hom aangehou het dat hy brood sou eet. En so dikwels as hy verbygaan, het hy daarheen weggedraai om brood te eet.
9 En sy het aan haar man gesê: Kyk tog, ek merk dat dit ‘n heilige man van God is wat gedurig by ons verbygaan;
10 laat ons tog ‘n klein ommuurde bo-kamer maak, en laat ons daar vir hom ‘n bed en ‘n tafel en ‘n stoel en ‘n lamp neersit; wanneer hy dan by ons kom, kan hy daar intrek.
11 En toe hy op ‘n dag daar kom, het hy in die bo-kamer ingetrek en daar gaan lê
12 en aan sy dienaar Gehási gesê: Roep hierdie Sunamitiese vrou. Nadat hy haar dan geroep en sy voor hom gaan staan het,
13 sê hy vir hom: Vra haar tog: Kyk, jy het al hierdie sorg aan ons bestee; wat kan daar vir jou gedoen word? Kan daar vir jou ‘n goeie woord gedoen word by die koning of die leërowerste? Maar sy antwoord: Ek woon onder my volk.
14 Daarop sê hy: Wat kan daar dan vir haar gedoen word? En Gehási antwoord: Voorwaar, sy het geen seun nie, en haar man is oud.
15 En hy sê: Roep haar. En toe hy haar geroep en sy in die deur gaan staan het,
16 sê hy: Sulke tyd oor ‘n jaar sal jy ‘n seun omhels. En sy antwoord: Ag nee, my heer, man van God, moenie vir u dienares lieg nie!
17 En die vrou het swanger geword en ‘n seun gebaar op daardie tyd oor ‘n jaar, soos Elísa met haar gespreek het.
18 Maar toe die kind groot was, het hy op ‘n dag uitgegaan na sy vader, na die maaiers,
19 en vir sy vader gesê: My kop, my kop! Dié sê toe vir ‘n dienaar: Dra hom na sy moeder.
20 En hy het hom gedra en by sy moeder gebring. En hy het op haar knieë gesit tot die middag en gesterwe.
21 En sy het opgeklim en hom op die bed van die man van God neergelê en agter hom toegesluit en uitgegaan.
22 Daarop roep sy haar man en sê: Stuur tog vir my een van die dienaars met een van die eselinne, dat ek gou na die man van God kan gaan en terugkom.
23 En hy sê: Waarom gaan jy vandag na hom? Dit is geen nuwemaan of sabbat nie. En sy antwoord: Wees maar gerus!
24 Toe saal sy die esel op en sê aan haar dienaar: Jaag aan en gaan voort; hou my nie op in die ry nie, behalwe as ek jou sê.
25 Sy het dan weggegaan en by die man van God op die berg Karmel gekom. Sodra die man van God haar op ‘n afstand sien, sê hy aan sy dienaar Gehási: Kyk, daar is dié Sunamitiese vrou!
26 Loop haar nou tog tegemoet en sê vir haar: Gaan dit goed met u? Gaan dit goed met u man? Gaan dit goed met u kind? En sy antwoord: Goed.
27 Maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy sy voete gegryp. En Gehási het aangekom om haar weg te stoot; maar die man van God sê: Laat haar staan, want haar siel is bitter bedroef in haar, en die HERE het dit vir my verberg en my dit nie meegedeel nie.
28 En sy sê: Het ek van my heer ‘n seun gevra? Het ek nie gesê: Moet my nie mislei nie?
29 En hy sê vir Gehási: Gord jou heupe en neem my staf in jou hand en gaan heen; as jy iemand teëkom, groet hom nie; en as iemand jou groet, antwoord hom nie; en lê my staf op die gesig van die seun.
30 Maar die moeder van die seun sê: So waar as die HERE leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie! En hy het opgestaan en agter haar aan geloop.
31 En Gehási het voor hulle uit gegaan en die staf op die gesig van die seun gelê; maar daar was geen stem en geen opmerksaamheid nie. Daarop gaan hy terug hom tegemoet en bring hom die berig en sê: Die seun het nie wakker geword nie.
32 En toe Elísa in die huis kom, was die seun dood, neergelê op sy bed!
33 En hy het ingegaan en die deur agter hulle twee toegesluit en tot die HERE gebid.
34 Daarna klim hy op en gaan lê op die kind en sit sy mond op dié se mond en sy oë op dié se oë en sy hande op dié se hande en buig oor hom neer; en die vlees van die kind het warm geword.
35 Daarop het hy teruggekom en in die huis een keer heen en weer geloop, om dan opnuut op te klim en oor hom neer te buig; en die seun het sewe maal genies; en die seun het sy oë oopgemaak.
36 Toe roep hy Gehási en sê: Roep hierdie Sunamitiese vrou. Nadat hy haar dan geroep en sy by hom gekom het, sê hy: Tel jou seun op.
37 En sy het ingekom en voor sy voete geval en na die aarde gebuig; en sy het haar seun opgetel en uitgegaan.
38 Weer het Elísa in Gilgal gekom, en daar was hongersnood in die land; en terwyl die profete-seuns voor hom sit, sê hy aan sy dienaar: Sit die groot pot op en maak ‘n kooksel klaar vir die profete-seuns.
39 Toe gaan een uit in die veld om groente te versamel; en hy het wilde ranke gekry en daarvan sy kleed vol karkoere gepluk en gekom en dit in die kookpot stukkend gesny; want hulle het dit nie geken nie.
40 Daarna het hulle vir die manne opgeskep om te eet; maar net toe hulle van die kooksel eet, skreeu hulle en roep: Man van God, die dood is in die pot! En hulle kon dit nie eet nie.
41 Maar hy sê: Gaan haal dan meel. En hy gooi dit in die pot en sê: Skep uit vir die mense, dat hulle eet. En daar was niks verkeerds in die pot nie.
42 En daar het ‘n man van Baäl-Salísa gekom en vir die man van God eerstelingsbrode, twintig garsbrode, en vars graan in sy mandjie gebring. En hy het gesê: Gee vir die mense, dat hulle eet.
43 En sy dienaar antwoord: Hoe kan ek dit aan honderd man voorsit? Maar hy sê: Gee vir die mense, dat hulle eet, want so spreek die HERE: Hulle sal eet en oorhou.
44 En hy sit dit hulle voor, en hulle het geëet en oorgehou volgens die woord van die HERE.