Home

Psalms

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50 51 52 53 54 55 56 57 58 59 60 61 62 63 64 65 66 67 68 69 70 71 72 73 74 75 76 77 78 79 80 81 82 83 84 85 86 87 88 89 90 91 92 93 94 95 96 97 98 99 100 101 102 103 104 105 106 107 108 109 110 111 112 113 114 115 116 117 118 119 120 121 122 123 124 125 126 127 128 129 130 131 132 133 134 135 136 137 138 139 140 141 142 143 144 145 146 147 148 149 150


-Reset+

Hoofstuk 106

1 Halleluja! Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
2 Wie kan die magtige dade van die HERE uitspreek, al sy roem verkondig?
3 Welgeluksalig is hulle wat die reg bewaar, die wat altyd geregtigheid doen.
4 Dink aan my, o HERE, na die welbehae in u volk, besoek my met u heil,
5 dat ek kan aanskou die geluk van u uitverkorenes, dat ek bly kan wees in die blydskap van u volk, my kan beroem met u erfdeel.
6 Ons het gesondig, saam met ons vaders; ons het verkeerd gedoen, goddeloos gehandel.
7 Ons vaders in Egipte het nie ag gegee op u wonders, hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Skelfsee.
8 Maar Hy het hulle verlos om sy Naam ontwil, om sy mag bekend te maak.
9 En Hy het die Skelfsee gedreig, sodat dit opgedroog het, en hulle deur die watervloede laat gaan soos deur ‘n woestyn.
10 En Hy het hulle verlos uit die hand van die hater en hulle bevry uit die hand van die vyand.
11 En die waters het hulle teëstanders oordek: nie een van hulle het oorgebly nie.
12 Toe het hulle aan sy woorde geglo, hulle het sy lof gesing.
13 Maar hulle het gou sy werke vergeet, op sy raadsbesluit nie gewag nie.
14 En hulle het baie begerig geword in die woestyn en God versoek in die wildernis.
15 Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur.
16 En hulle was in die laer afgunstig op Moses, op Aäron, die heilige van die HERE.
17 Die aarde het oopgegaan en Datan verslind en die bende van Abíram oordek.
18 En ‘n vuur het gebrand onder hulle bende, ‘n vlam die goddelose aan die brand gesteek.
19 Hulle het by Horeb ‘n kalf gemaak en gebuig voor ‘n gegote beeld.
20 En hulle het hul Heerlikheid verruil vir die afbeelding van ‘n bees wat gras eet.
21 Hulle het God vergeet, hulle Verlosser, wat groot dinge gedoen het in Egipte,
22 wonders in die land van Gam, vreeslike dinge by die Skelfsee.
23 Toe het Hy gesê dat Hy hulle sou verdelg, as Moses, sy uitverkorene, nie voor sy aangesig in die bres gaan staan het om sy grimmigheid af te keer, dat Hy nie sou vernietig nie.
24 Hulle het ook die kosbare land versmaad, sy woord nie geglo nie;
25 en hulle het gemurmureer in hul tente, na die stem van die HERE nie geluister nie.
26 Toe het Hy sy hand teen hulle opgehef om hulle neer te slaan in die woestyn,
27 en om hulle nageslag te versprei onder die nasies en hulle te verstrooi in die lande.
28 Ook het hulle hul aan Baäl-Peor gekoppel en die offerandes aan die dooies geëet;
29 en hulle het die HERE geterg deur hul dade, sodat ‘n plaag onder hulle uitgebreek het.
30 Toe het Pínehas opgetree en gerig geoefen, en die plaag het opgehou;
31 en dit is hom gereken tot geregtigheid, van geslag tot geslag tot in ewigheid.
32 Hulle het Hom ook vertoorn by die waters van Mériba, en dit het met Moses sleg gegaan om hulle ontwil;
33 want hulle was wederstrewig teen sy Gees, sodat hy onverskillig gepraat het met sy lippe.
34 Hulle het die volke nie verdelg soos die HERE aan hulle gesê het nie,
35 maar hul met die heidene vermeng en hulle werke geleer.
36 En hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle ‘n strik geword.
37 Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer
38 en onskuldige bloed vergiet—die bloed van hul seuns en hul dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het—sodat die land deur bloedskuld ontheilig is.
39 En hulle het onrein geword deur hul werke en gehoereer deur hul dade.
40 Toe het die toorn van die HERE ontvlam teen sy volk, en Hy het ‘n afsku gekry van sy erfdeel.
41 En Hy het hulle in die hand van die heidene gegee, en hulle haters het oor hulle geheers;
42 en hulle vyande het hulle verdruk, sodat hulle onder hul hand moes buig.
43 Hy het hulle baiekeer gered; maar húlle was wederstrewig in hulle voorneme. So het hulle dan weggesink deur hul ongeregtigheid.
44 Nogtans het Hy hulle benoudheid aangesien toe Hy hulle smeking gehoor het;
45 en Hy het tot hulle beswil aan sy verbond gedink en berou gekry na die veelheid van sy goedertierenhede.
46 En Hy het hulle medelyde laat vind by almal wat hulle as gevangenes weggevoer het.
47 Verlos ons, HERE onse God, en versamel ons uit die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u lof!
48 Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!