Home

Psalms

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50 51 52 53 54 55 56 57 58 59 60 61 62 63 64 65 66 67 68 69 70 71 72 73 74 75 76 77 78 79 80 81 82 83 84 85 86 87 88 89 90 91 92 93 94 95 96 97 98 99 100 101 102 103 104 105 106 107 108 109 110 111 112 113 114 115 116 117 118 119 120 121 122 123 124 125 126 127 128 129 130 131 132 133 134 135 136 137 138 139 140 141 142 143 144 145 146 147 148 149 150


-Reset+

Hoofstuk 78

1 ‘n Onderwysing van Asaf. My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond.
2 Ek wil my mond open met ‘n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom.
3 Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het,
4 sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.
5 Hy tog het ‘n getuienis opgerig in Jakob en ‘n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het—om dit aan hulle kinders bekend te maak,
6 sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders,
7 en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar,
8 en nie word soos hulle vaders nie, ‘n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.
9 Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog.
10 Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.
11 En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het.
12 Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen, in die land Egipte, die veld van Soan.
13 Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos ‘n wal.
14 En Hy het hulle bedags gelei met ‘n wolk en die hele nag met ‘n lig van vuur.
15 Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede.
16 En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere.
17 Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land.
18 En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin.
19 En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn?
20 Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het—sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk?
21 Daarom het die HERE gehoor en toornig geword, en ‘n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel;
22 omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie.
23 En Hy het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak;
24 en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee.
25 Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur.
26 Hy het die oostewind laat uitbreek aan die hemel en die suidewind deur sy sterkte aangevoer;
27 en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë;
28 en Hy het dit binne-in sy laer laat val, rondom sy wonings.
29 Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig.
30 Hulle was nie weg van hul begeerte nie—hulle voedsel was nog in hulle mond—
31 toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy ‘n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het.
32 Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie.
33 So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking.
34 Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek;
35 en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.
36 En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg;
37 maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.
38 Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie.
39 En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, ‘n wind wat weggaan en nie terugkom nie.
40 Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis;
41 en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk.
42 Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie;
43 toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan.
44 En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie.
45 Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het.
46 En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan.
47 Hy het hulle wingerdstok deur die hael doodgemaak en hulle wildevyeboom deur ryp.
48 Ook het Hy hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee aan die blitse.
49 Hy het die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, ‘n uitsending van ongeluksbodes.
50 Hy het ‘n pad vir sy toorn gebaan, hulle siel nie gered van die dood nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee.
51 En Hy het al die eersgeborenes in Egipte getref, die eerstelinge van hul krag in die tente van Gam.
52 Maar Hy het sy volk laat wegtrek soos skape en hulle gelei soos ‘n kudde in die woestyn.
53 Ja, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie gevrees het nie; maar die see het hulle vyande oordek.
54 En Hy het hulle gebring na sy heilige grondgebied, na die bergland wat sy regterhand verwerf het.
55 En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in hulle tente laat woon.
56 Maar hulle het Hom versoek en was wederstrewig teen God, die Allerhoogste, en hulle het sy getuienisse nie onderhou nie.
57 En hulle was afvallig en het troueloos gehandel soos hul vaders; hulle het omgedraai soos ‘n bedrieglike boog.
58 En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek.
59 God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp.
60 En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense.
61 En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander.
62 En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel.
63 Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie.
64 Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie.
65 Toe het die Here wakker geword soos een wat slaap, soos ‘n held wat oorweldig is deur die wyn;
66 en Hy het sy teëstanders van agter geslaan, Hy het hulle ‘n ewige smaadheid aangedoen.
67 En Hy het die tent van Josef verwerp, en die stam van Efraim het Hy nie uitverkies nie,
68 maar die stam van Juda uitverkies, die berg Sion wat Hy liefhet.
69 En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het.
70 En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem.
71 Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel.
72 En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.